Twee jaar gelede het ek in verwondering gekyk hoe my dogter by die Kunstekaap Teater met haar span akteurs aan die ATKV Tienertoneel kompetisie deelgeneem het.
Vanjaar was ek by die Kunstekaap Teater deel van die toneelgeselskap van “Mister M en sy Mense” kompleet met ‘n pers bandanna, parmantige hoed en vername bynaam : “Lady P”!
Met elke vertoning van” Mister M en sy Mense” het ek bewoeë , trots en dankbaar beleef hoe die teks wat ek saam met Marguerite en die toneelgeselskap geskep het, lewe kry. Ek het in ootmoed en verwondering gekyk na ‘n kleurryke, eg Suid-Afrikaanse wêreld vol hartseer, pyn en humor wat hierdie talentvolle kinders en hulle regisseur elke keer opnuut skep.
Ek het saam met hulle die vreugdes en teleurstelling van kompetisie op kompetisie ervaar. Hulle het na terugvoer ,voorstelle, kritiek en lof geluister . Hulle het hulle skoolwerk gedoen ten spyte van laataande en lang busritte. Hulle het hulle hartjies uitgespeel al was hulle hondsiek.
Hierdie “kiddies” het geweier om te onttrek toe een van die spelers haar stem tydens opwarming verloor het. Toe Marguerite by hulle uitkom, het hulle reeds besluit hoe hulle gaan aanpas om die “show” te laat aangaan!
“True grit” het ek op Face Book gesê! The show must go on!
Dapperheid en goeie opleiding – vyf jaar se oefen, skaaf, groei , werk en werk en glo!
Nou kyk ek na die video’s waarin elke kind praat oor toneel, “Mister M en sy Mense” en wat dit vir hulle beteken om na die finaal van die ATKV Tienertoneel Kompetisie in Roodepoort te gaan.
Hulle praat uit hulle harte uit en dit raak my skrywersgemoed, want hulle verwoord my hartsgoed. Hulle praat is ‘n vervulling van al die drome en ideale wat Marguerite vir hulle vanjaar gehad het toe sy hierdie storie vir hulle gekies het. Meer nog geskep het soos net ‘n regisseur kan!
Toe ek saam met die klomp van “Mister M en sy Mense”, “ In Noorweë” en “Vlot ter See” na die Loganfees in Frazerburg gereis het en gesien het hoe hulle werk , speel en mekaar ondersteun, het ‘n gedagte by my begin posvat.
Die klomp wat saam met my die ATKV Tienertoneel –Skryfkursus bygewoon het, het my gevra wat Hoërskool Tygerberg se geheim is? Hulle vaar dan elke jaar so goed. Nee, uitstekend verby!
Ek het toe nie geweet wat om te sê nie. Almal werk hard. Almal het talent.
As hulle my nou sou vra, sal ek sê : “Liefde”!
Liefde is hulle geheim.
Liefde vir toneel, vir mekaar, vir hulle regisseurs, vir hulle skool en ja, ook vir ons land, Suid-Afrika.
Meer as een kind verwys na die samehorigheidsgevoel wat hulle ervaar as deel van die toneelgeselskap . Dit is ‘n familie, sê hulle. Ek het die self gesien – ‘n toneelfamilie waar kinders opreg bly is vir mekaar wanneer een erkenning kry en troos as daar kritiek is en elkeen aanvaar word net soos hy of sy is.
Is dit nie ook wat ons vir ons land wil hê nie? Is dit nie presies wat op van daai papiertjies gestaan het waarop hulle hulle bekommernisse en kwessies neergeskryf het nie? Die papiertjies wat die storie geword het wat hulle aand vir aand vertel.
Dis soos toor. ‘n Groep mense , elkeen met ‘n unieke wees en gawe wat saamspan om te vermaak, stories te vertel – lief en leed uit te beeld.
Al wat ek kan sê, is, Lady P is baie dankbaar om deel te kan wees van hierdie liefdevolle ervaring. Sy is veral dankbaar vir haar liefdevolle dogter wat vir elkeen van haar “kiddies” net die heel beste moontlikhede skep.
Roodepoort, die Tiere Toneel-Familie is op pad om saam met julle almal die liefde vir teater te ervaar en vier.
Wen of verloor –die Vreugde is in die proses, die storie vertel, die speel! Die saamwees .
Die teater.
Break a leg!